|
Hallo Aam,
Dankie vir jou briefie - ek dreig al vir baie maande om vir julle my storie te stuur, maar jy weet hoe dit gaan, mens stel uit en later af, tot my man my gisteraand gedwing het om vir julle te skryf!! Ek weet nie of jy belangstel nie, maar ek gee bietjie meer detail as in my testimonial:
Op 120.8 kg was ek raadop!! Ek het al alle diete probeer, sommige meer suksesvol as ander, maar almal het dieselfde geeindig - na 'n paar maande het ek net die gewig wat ek verloor het weer stadig aan opgetel totdat ek op die ou einde meer geweeg het as voor die dieet. My oudste suster is 'n tipe 2 diabeet en iemand het haar aangeraai om Manna te probeer. Omdat ek, soos genoem PCOS gehad het, en ook bang was dat diabetes my voorland is, het ek ook Manna begin drink. Sonder om regtig my eetgewoontes aan te pas aan die begin, het die skaal net stadig maar seker 'n kilogram per week minder gewys. Nadat ek 5 kg verloor het in 'n maand se tyd, het ek gedink dat as ek beter eet, gaan ek dalk vinniger gewig verloor.
Ek het begin gesonder eet en as gevolg van die Manna, het my "craving" vir soetgoed ook verdwyn. Mettertyd het ek ook begin stap, my pa het 'n boek op 'n uitverkoping vir my gekoop, met die naam Walk off Weight, deur Andrew Cate. Ek het dit maar taamlik lang tand gelees, maar die skrywer het alles so goed verduidelik, dat ek besluit het om elke aand met my worshonde te gaan stap. Ons het maar BAIE stadig begin, want ek was baie onfiks, maar ek het sy program probeer volg en elke week was 'n oorwinning in die kleine. Saam met die stap, het die skaal en centimeters ook vinniger begin wegraak. Kort voor lank, wou ek elke aand 'n uur stap en was verslaaf aan my daaglikse oefening. Omdat ons in die Koue Bokkeveld bly, is die winters maar bitter koud, maar geen reën (en selfs sneeu) het my gekeer nie. Later van tyd het ons 'n "Optical bike" gekoop en nou oefen my man saam met my. Ons maak beurte om te "step" of met gewigte te oefen. Dit is heerlik om saam 'n doel te hê en dit is 'n motivering as mens 2 is - die dae wat ek lui is, is hy my motivering en andersom. Die oefening het 'n "snow ball" effek, want hoe ligter en fikser jy raak, hoe meer wil jy doen en hoe hoër is jou doelwitte.
Wat my gewig betref, het ek dus nooit doelbewus besluit om te dieet as sulks nie (om daardie rede het ek nie 'n "before" foto nie). Stadigaan het ek my lewensstyl aangepas en agtergekom hoeveel beter mens voel as jy gereeld oefen en die regte kos inneem. Ek het ook vir myself korttermyn doelwitte gestel. Ons was verlede jaar in Augustus Victoria Valle toe vir my 40ste verjaardag en my doel was om voordat ons gaan 95 kg te weeg (dit was my eerste mylpaal en 'n groot motivering). Sederdien het ek talle sulke klein mylpale gehad om op 'n spesifieke datum of vir 'n sekere geleentheid op 'n sekere gewig te wees. Ek dink as ek aanvanklik geweet het ek moet 50 kg verloor, sou ek sommer dadelik moet opgegee het!!
Die positiewe terugvoering en ondersteuning van vriende, familie en kollegas (dié wat my nog erken) is heerlik. 'n Ander groot positief is natuurlik al die nuwe klere, en dat ek ook uiteindelik 'n keuse het van wat ek wil dra, ek het van 'n 24 na 'n 12 of 14 geval - ek sukkel nog partykeer self om te glo dat iets my gaan pas, totdat ek dit aangetrek het.
Die snaakse ding is ook mense se reaksie as hulle vra watter dieet ek gevolg het - my antwoord dat ek GEEN spesifieke dieet volg nie, maar slegs my Manna drink, (en nie enige eetlusdempers nie) gesond eet en 5 keer per week oefen, is meeste van die tyd vir hulle ongelooflik. Maar ek verstaan nou dat geen dieet sal werk as mens nie 'n kopskuif maak om vir altyd jou lewensstyl te verander nie.
Wel, ek sê weer eens dankie vir julle wonderlike produk, daarsonder sou ek nie my doelgewig kon bereik nie. Ek heg vir jou 'n foto aan, hy is ook al 4 maande oud, so sedertdien het ek darem nog 7 kg verloor, maar dit is die motivering vir 'n nuwe klerekas!! Ek belowe 'n foto as ek 68 kg weeg - dit is my volgende en laaste mylpaal.
Mooi bly
Bets Mostert
|